Nooit geweet Los Angeles is soos 30 Durbans aangemekaar gelas en uitgestrek nie. Ek het nog nooit voorheen in die aand vir 20min lank oor ’n see van liggies gevlieg wat net aanhou nie - geen stad is so groot nie! Renée was nog altyd ’n groot liefhebber van Durban so sy het onmiddellik soos ’n vis in die water van die stille oseaan gevoel.
Die shoestring budget internethotelbespreking - nou ja wat sal ek sê behalwe dat die adres Sunset Boulevard, Hollywood, nie sleg klink nie en soos Renée opgemerk het: die hotel minstens die "signature LA palmbome" het. Verder was dit baie basies maar binne loopafstand van die main attractions. Met ’n yskassie in die kamer was dit heel voldoende. Jy sal nie vir Christof in so ’n hotel vang nie, maar hy is al te bederf en ons steur ons glad nie daaraan nie. Ons het weer eens baie te voet beleef.
Elke plek waar jy wil uitkom in LA is ver (twee straatblokke is baie verder in LA as in Cambridge - dis ’n lang stap!) Hierdie is die eerste stad in die VSA wat deels ontwerp is volgens die behoeftes van mense wat meestal motors as vervoermiddel gebruik. Amper alle paaie is breed en so ontwerp om baie verkeer te hanteer, die geboue moes baie parkeerplek voorsien en die Amerikaners se sogenaamde car culture kom van hier af.
Soos almal probeer ons toe om die immer teenwoordige, oorbekende Hollywoodteken af te neem maar sonder behoorlike sukses. As dit nie bewolk is nie, reën dit of is ons op die verkeerde plek. Ons beste poging is hier bo. Die stad lê onder dit maar is ver, soos alles ver van mekaar is. Lees meer oor die interessante geskiedenis van hierdie landmerk: http://www.hollywoodsign.org/ Die teken is al twee maal geedit om Hollyweed en later Holywood te lees toe die pous besoek afgelê het.
Renée het vanaf die eerste dag af gekyk asof sy ’n celebrity kan raaksien. Verder af in "ons straat" Sunset Boulevard, in die Nickelodeon teater, was die verfilming van een van haar gunstelingreekse: Victorious, aan die gang maar natuurlik was niks van die straat af sigbaar nie. Tweede beste was om die splinternuwe Madame Tussauds in Hollywood Boulevard te besoek. Dit het in 2009 geopen en die uitstallings is modern en vars. Anders as dit wat ons dit ’n paar jaar gelede in Londen gesien het. Ons het groot pret gehad - Lady Gaga was daar en het mooi stil gestan dat ons foto's kan neem!
Ons is op ’n celebrity houses toer in Beverley Hills en het ’n hele paar sterre se huise, of vórige huise gesien soos: Die Gershwin Broers, Stevie Wonder, Marilyn Munroe, Elvis en die hekke waaruit die ambulans met Michael Jackson gejaag het. Die meeste van hierdie sterre is al dood. Ook die hotel waarin Whitney Houston onlangs oorlede is. Om Charlize uit haar kar te sien klim was meer op ons lysie. (Sy bly eintlik in Malibu. ’n Heel ander toer wat minder verskeidenheid insluit is wel daarvoor beskikbaar.)
Dit was tog interessant om deur die strate van Beverley Hills te ry. Dié grand woonbuurt se straatname het almal unieke wit en swart bordjies ipv die algemene wit en bloues in die res van LA. Elke straat het ’n laning met verskillende bome en daar is dun versteekte lanings tussen die strate waarin die asblikke versteek word. Een sal byvoorbeeld net Mexico palms hê (dis nou die tipiese LA palm - lank, maer met so’ n klossie heel bo), die volgende eikebome, sipresse en ook ’n paar lanings Jakarandas om my te laat tuis voel.
Ons het shopping gedoen in Rodeo Drive in Beverley Hills (die duurste inkopiestraat in die VSA), ’n bordjie sop geëet en ons verkyk aan die mense, fancy karre (sien die Bugatti van die Bijan winkel se eienaar) en wannabee toeriste. Die Cupcake ATM was my hoogtepunt - dis ’n moet sien/doen (sien volgende mini blog). En steeds het ons op die uitkyk vir ’n celebrity gebly, want dis waarvoor Renee gekom het...
Vandaar na Santa Monica (nog alles deel van LA) dis so groot en uitgestrek, jy ry ’n uur lank bus om daar uit te kom. Daar is die mooiste pier, die see in met ’n lieflike uitsig op die baai suid en in Malibu se rigting noord. Van Charlie Chaplin se oudste movies tot Bay Watch is deels daar verfilm. Ons is ook na Venice Beach waar hippies, tattoes, goedkoper pryse by honderde stalletjies en grafitti oral hoogty vier. Dis net ’n bietjie suid van Santa Monica. Steeds geen celebrity nie...
Op die laaste dag probeer ons minder soos toeriste lyk (moeilik as jy pal op ’n Hop on Hop off bus ry met n I love LA T-shirt aan). Nadat ons Miley Cyrus se Cookie Dough and Reese's Peanut Buttercup Shake by Millions of Milkshakes gaan uitprobeer het, kom ons amper per ongeluk op die Beverly Center af, ’n super moderne inkopiesentrum, geleë tussen Beverley Hills en Hollywood - dis nou nadat ons twee sambrele in die wind gebreek het en ons amper papnat op die einste bus gereën het. Toe ons op ons heel slegste lyk spot Renée die mooi meisie - vir my het sy ’n bietjie bekend, soos verlangse familie gelyk maar Renée het onmiddellik geweet - dis Jennifer Love Hewitt wat sy in ’n winkel sien. Soos amateur paparazzi agtervolg ons haar en trek haar toe vas in Bloomingdales. Terwyl die ster van Party of Five en The Ghost Whisperer haar kredietkaart swipe vra ons baie mooi vir haar vriendin of ons 'n foto mag neem en sê vinnig dat ons van die anderkant van die wêreld af kom. Sy stem toe heel liefies in om ’n foto saam met Renée te neem. Nie gewaag om vir nog ’n foto te vra nie en ongelukkig ook nie ’n handtekening gekry nie maar kyk na die mooi foto - en google haar gerus as jy te oud is om te weet wie sy is.
Renee en Jennifer Love Hewitt in Beverly Hills! |