|
Boheemse restaurant - Upstairs on the Square |
Hier kan jy kan kies uit fat free, low fat milk, 2% milk, whole milk, cream, of half & half in jou blond roast, medium roast, dark roast of decaf coffee, in small, medium of large, dit alles ook in Hazelnutgeur of iets anders as jy dit liewer so wou hê. Dan is English Breakfast tea wat ek gewoonlik wil hê, heel laaste op die lys. Jy moet eers nee dankie sê vir apple & cinnamon, chai, black currant, vier verskillende soorte berry teas, vanilla ens. Saam met jou hamburger kan jy nie net kies uit gewone chips, baked potato, potato wedges of rys nie, daar is ook nog sweet potato fries wat regtig ’n welkome verandering is. Dit is baie lekker.
Dit bly vir my vreemd dat mens in die eerstewêreld gekonfronteer word met myle, ponde, onse, duime en jaarts - dit laat my elke keer aan my ouma dink as die mense so praat. Die feit dat hulle aan die "verkeerde kant" van die pad ry en dag en maand omruil as die datum geskryf word, help ook nie om ’n mens te laat tuis voel nie. Jy is nooit seker of hulle van ’n dag of ’n maand praat as die syfer onder 12 is nie! Ons is nou maar in die gewoonte om 11 May 2012 te skryf as ons 5/11/2012 bedoel - maak my erg deurmekaar.
|
Honderde moontlikhede van paascupcakes, paassjokolades ens |
Daar is soveel keuses op die rakke in die winkels - nie net 5 tot 8 toasters om uit te kies nie maar eerder 20 tot 30 in ’n groot afdelingswinkel. Tog kry jy amper nie ’n elektriese ketel nie - dis vir my so snaaks, almal hier en dele van Europa kook mos water in ’n ketel op die stoof. Hoekom?! Ek wil tog vir my een van hulle mooi stoofketels of "Wasserkochers" soos ek dit in Duitsland leerken het, saambring om op my gasplate by die huis te gebruik wanneer daar kragonderbrekings is - al wanneer ek dit sal gebruik.
Dan is daar voorbeelde van soveel praktiese idees, bv: omtrent alle kos word verkoop in herseëlbare sakkies - soos ham, kaas, wraps, ontbytkos ens. In ’n meubelwinkel sien ons gratis potlode en lang repies papier met ’n maatband op gedruk - is dit nou nie fantasties nie - want jy vergeet heeltyd jou maatband by die huis as jy ’n kas of ’n bank of iets moet gaan koop wat op ’n sekere plek moet inpas. Nog iets - plat, opvoubare pumps in ’n klein sakkie wat jy in jou handsak kan gooi as jy in high polfys wil opdaag maar nie die hele aand daarmee kan loop nie. Nie dat dit meer baie met my gebeur nie maar ek het dadelik vir Willemien ’n paar aangeskaf. Dis dalk ook tuis beskikbaar - maar hier weer eens in al die kleure en afwerkings (om by jou aandrok te pas). O ja, kyk na die foto van die hondereëls. Wat ons verder beïndruk het in hierdie park is ’n "fietsregmaakstasie" met ’n raam waaraan jy jou fiets kan hang. Daar is ook ’n paar spanners, allen keys en ander gereedskap met sterk staalkabels vasgemaak - indien jou fiets breek en jy het nie al die gereedskap byderhand nie, kan jy dit gebruik.
|
al die reëls om jou hond in toom te hou |
Banksake is ook anders. Debiet- of kredietkaarte moet baie mooi opgepas word want hulle vra selde ’n pinkode vir ’n klein bedrag, so enige iemand kan jou kaart gebruik - wat vir my baie onveilig voel. Verder skryf almal nog tjeks. Alhoewel die internet ook as betaalkanaal gebruik word is dit doodnormaal om ’n tjek te skryf en te pos. Niemand steel of vervals dit nie en die poskantoor laat dit nie wegraak nie. Die posdiens is uiters betroubaar en alhoewel daar sprake is dat die poskantoor genoodsaak gaan word om ’n klomp afleggings te doen omdat pos minder raak, is hulle baie effektief. In hulle winkel is daar die wonderlikste skryfbehoeftes - jy kan bv die bubbleplastiek koeverte (by ons net in bruin of wit beskikbaar) in die funkyste kleure en ontwerpe kry, in elke denkbare grootte.
Dis hierdie jaar Amerikaanse verkiesingsjaar en Barack Obama en sy Demokrate party baklei om aan bewind te bly. Op die oomblik lyk dit na ’n amper gelykopstryd met "die enigste ander party" - die Republikeine gelei deur Mitt Romney (my buurvrou se van is ook Romney en sy kom ook van Massachussets soos hy - maar sy ontken enige familiebande). Wat vreemd bly, is dat daar soveel keuses oral in die samelewing en in die winkels is maar dat jy eintlik net uit twee politieke partye kan kies. Hulle verskil in mening oor aborsie, same sex marriages, nuanses van die ekonomie en ander dinge maar uit ’n Suid-Afrikaanse hoek lyk dit naby aan mekaar in oortuiging en beleid...dit het ’n mens seker aan ’n ware eerstewêreldse, oorwegend homogene land, waar die "groot" dinge uitgesorteer is. Hulle het die luuksheid en tyd om in die detail van tien verskillende ontwerpe vir gesnyde sleutels betrokke te raak.
Dis ’n welkome verandering om in so ’n veilige omgewing te woon veral nou dat dit somer is. Dit voel letterlik asof ons kan asemhaal (soos in Stilbaai maar ongelukkig sonder die vriende). Christof lees daagliks die Suid-Afrikaanse koerante en ek het ook aanvanklik maar vermy dit deesdae. Nie lus vir al die slegte nuus nie. Nou ja, julle moet asb cope met Malema en kie, ons sal weer kom help na Julie. Ons "vakansie" gaan ook nie vir altyd aanhou nie en daar is baie dinge van Suid-Afrika wat ons mis. Christof beoog om ’n "gasbydrae" te maak vir die volgende blog, sodat julle kan hoor waarmee hy hier besig is, hy is defnitief nie op vakansie nie.
|
Ons motorpad - groot verskil tussen winter ...
|
|
en somer! |