Saturday, April 7, 2012

8. Die vallei van "melk en heuning".


Salinas Valley
Die kuslyn tussen Los Angeles en San Francisco

Die gesegde “California is a great place to live if you happen to be an orange” is glad nie net op lemoene van toepassing nie. Dit het ek en Renée eerstehands ervaar. Vanaf Los Angeles het ons op 8 uur lange treinrit al met die Kalifoniese kus gery in die rigting van San Francisco. Die treinspoor kronkel seelangs. Jy ry oor brûe, deur tonnels, verby Santa Barbara en sien kampeerders, branderplankryers, RV’s (alle Amerikaners kamp met groot Recreational Vehicles), pragtige rotsformasies en woedende branders wat breek soos aan ons Suid-Afrikaanse strande. Dan weer tussen landerye en wingerde en deur ’n pas waar jy die mooiste tonele deur groot glasvensters van die moderne treintrokke sien. Ons bestemming was ’n uur en half suid van San Francisco, die dorp, Salinas - die tuiste van die skrywer John Steinbeck.


Hendrik, Maria en Willem
Eva en Hillet
Dis ook waar my jongste broer Streicher en sy pragtige gesinnetjie woon. Hulle bly al 5 jaar daar en dis die eerste keer wat ons hulle besoek. Geleë in die Salinas Valley wat “the salad bowl of America” genoem word, is hierdie dorp naby aan die meer bekende Monterey Bay en Carmel by die Sea. My foto's kan ongelukkig glad nie reg laat geskied aan die besondersheid van die omgewing nie maar as mens daar rondry kan jy glo dat hierdie vrugbare vallei omtrent 80% van die land se blaarslaai, artisjokke, brokkoli, aarbeie ens produseer. Met weeromstandighede wat jou aan die Wes Kaap herinner heers die ideale temperature vir landbou. Dit kan koud raak maar dit sneeu nooit op die grond nie. 



Die Botha gesin woon in "Las Palmas Ranch" wat ons ’n veiligheidsdorp sal noem sonder dat dit nodig is. Vir my as geharde Pretorianer was dit wonderlik. ’n Mens is nooit bekommerd oor veiligheid nie en almal stap enige tyd van die dag of nag rond. Die vallei lê voor hulle en strek tot verby die dorp Salinas. "Las Palmas Ranch" is ’n paar kilometer buite Salinas geleë aan die voet van ’n bergreeks. Die huise is versprei op die heuwels. Daar is pragtige stappaaie en na die eerste lentereën is die wêreld aan die groen word. 


Baie van die inwoners werk in die landboubedryf. My broer werk vir ’n reuse tak van die HSBC bank. Die bank se kaartafdeling word nou wêreldwyd oorgekoop deur Capital One en daar is sprake dat hulle sal skuif uit hierdie hemel op aarde omgewing. Dis amper te erg om te glo. Weet nie hoe hulle dit gaan regkry na die wortelskiet van soveel jare nie.



Aan hierdie kant van die land is daar ’n groter Spaanse teenwoordigheid en baie van die mense is van Meksikaanse afkoms. My skoonsus Hillet se beste vriendin is daar gebore maar haar kinders is nou volledige Amerikaners soos my familie ook oor ’n geslag of twee gaan wees. Daar is wel nog ’n verskil. Hulle praat nie meer Spaans nie maar my familie praat Afrikaans by die huis. Streicher en skoonsus Hillet is baie streng met die kinders en alhoewel dit soms krom en skeef uitkom kan almal mekaar baie goed verstaan. Willem, die jongste, sukkel die meeste met woordorde en woordeskat maar is dierbaar en vol selfvertroue in sy poging. Dis ’n groot prestasie veral wanneer daar drie kinders minder as 2 jaar uitmekaar in ’n gesin is. Daar is geen ander Afrikaanse vriende naby nie en dis vir hulle baie natuurlik om Amerikaans met mekaar te praat soos wat hulle by die skool leer. Gelukkig kry die kinders elke jaar ’n goeie Afrikaanse inspuiting wanneer hulle vir 5 weke in Stilbaai kuier en net in Afrikaans met ’n groot getal Van den Berg en Botha nefies en niggies speel.



Ons het baie myle met Hillet se kindervriendelike voertuig afgelê en vir ’n week lank nie so baie gestap nie! Sy het soveel moeite gedoen om ons voor te stel aan die omgewing. Dit was lekker om te sien waar hulle woon, skoolgaan en werk. Die kinders word elke dag deur ’n vriendelike omie in ’n regte geel Amerikaanse skoolbus opgelaai en aangery na die Spreckles Elementary skool. Wanneer die oudste, Hendrik, September na die Middle School gaan sal dit loopafstand van hulle huis af wees (dis nou as daar ’n wonderwerk gebeur en hulle aanbly in hierdie pragtige omgewing). Ons was by ’n Soft ball match van Maria in Monterey, ’n Inline Hockey oefening van Hendrik en na al wat ’n groot winkel is in die omgewing. Tussendeur het ons nooit ophou gesels nie en lekker met die kinders gekuier.




Ons het die omgewing verken van Monterey tot by Carmel. Carmel is ’n lieflike plekkie wat my op ’n manier aan Jongensfontein herinner, net weer eens soos altyd in Amerika - baie groter en meer uitgestrek. Dit is ’n kunstenaarsgemeenskap met die pragtigste huise, baie quaint maar glad nie trashy nie. Daar is ontsaglike duur eiendomme en die dorp is perfek versorg met talle restaurante, kunswinkels en gallerye. Die strande en kronkelpad langs die kus is lieflik. Dis ook die dorp waar Clint Eastwood tans nog woon en burgemeester was jare gelede.
Carmel by the Sea

Monterey Bay Akwarium
Die akwarium in Monterey is gebou op die see reg langs die ou Cannery. in die vroeë dertiger jare is daar tonne sardiens op grootskaal direk uit die see gehaal en deur toegeboude tonnels oor die kuspad vervoer, deur ’n vinnige kookproses gestuur en vinnig geblik. Vandaar is dit versprei deur die hele Amerika en het baie Amerikaanse soldate in die Tweede Wêreldoorlog gevoed. Die akwarium vertel die geskiedenis van hierdie kortstondige bloeitydperk van Monterey en is loshande die wonderlikste akwarium wat ek al besoek het. Daar is n touch 'n feel afdeling waar jy aan visse, seesterre en seeanemone kan raak. Baie ander interaktiewe programme, films en uitstallings slaan die asem weg. Kan jy jou voorstel dat daar ’n museum bestaan in ’n kleinerige stad waar 1200 vrywilligers werk om die plek te laat vibreer van aksie.

Die bekende 17 mile drive begin by Monterey, kronkel deur ’n nasionale park, langs die kus af en eindig by die bekende Pebble Beach Gholfbane. Dis nog iets om te sien - die eiendomme en gholfbane is so mooi geleë dis moeilik om te beskryf. Alle gholf fanatici weet van hierdie bane en ek hoor ’n gholfkampioen het nadat hy die Amerikaanse Ope(?) daar gewen het, sy dogtertjie 'Pebble Beach" gedoop.



"Lonely Cypress" op die 17 Mile drive
Ons het ook ’n tweedag trippie na San Francisco onderneem wat ongelukkig bemoeilik is deur aanhoudende reën. Dit het die drie Botha’tjies wat heeltyd in die motor moes wees se moed gebreek met al die sightseeing wat ons in die reënweer probeer doen het. Ons het darem die strand/waterfront gesien, oor die bekende Lomdardstraat-bult en oor die toegemiste Golden Bridge gery, Alcatraz van die kus af gesien (nie die moeite werd om die eiland die weersomstandighede te besoek nie) en later geëindig in ‘n fliek om die kinders rustig te kry. Party van ons sien toe The Hunger Games op die dag van sy rekordvrystelling in Amerika (ander storie daardie).
Die oorbekende Golden Gate Bridge buite San Francisco
wat in baie flieks te sien is.
Alcatraz van ver af.

In elk geval, die weer was nie heeltemal ideaal om “flowers in our hair” te sit toe ons in San Fran aangekom het nie maar dit het ons ’n voorsmakie gegee en ek het dit so waardeer dat broer en skoonsus hierdie trippie ook nog vir ons moontlik gemaak het. Die terugrit deur Santa Cruz (surfers’ paradise) en die stop by Half Moon Bay was onvergeetlik. Kan my voorstel dat ons eendag in die toekoms Maria se troue hier kan kom bywoon!
 Gholfbaan by Half Moon Bay
Maria en Willem voor die pragtige Half Moon Bay Hotel


Steelfoto van Streicher en Hillet
- dis al hoe ’n mens hom kan afneem!
Dit was ’n heerlike trip, baie dankie julle Botha’s, nou het ons ’n baie mooi prentjie van die omgewing en sal verstaan as julle swaar afskeid neem. 


Terwyl ons in Kalifonië rondgekuier het, was ons gesin van 5 in 4 verskillende tydzones - Willemien op Greenwich tyd in SA, Adam 6 ure later in NY, ek en Renée 9 ure later en Christof was 3 uur vroëer as in SA op ’n VN trip in Indië. Hier is ’n link van sy werk daar - dit was ’n harde, uitmergelende 10 dae wat gelukkig heel goed afgeloop het:

http://www.youtube.com/watch?v=vWRSCkeHLRg&feature=email










Wednesday, April 4, 2012

7. Waaraan die Engelse nie nog alles sal dink nie!


Dis wat Christof se ouma sou sê as sy hoor waarvan ek julle nou gaan vertel. Ek dink sy het die Amerikaners bedoel. 

Jare gelede toe ons vir ’n jaar in New Haven gewoon het was ons ’n jaar getroud. Met my visum kon ek nie werk nie (soos nou ook) en een van my tydverdrywe was om die Kook en Geniet ’n bietjie beter te leerken. Sonder moderne tegnologie was hierdie bybel van Afrikaaanse kookkuns die enigste wat ek destyds gehad het en ek het begin bak en brou van kant af. Koeksisters, melkterte tot bobotie en vleispasteie het ek hier vir eerste keer gemaak en dit het my beter toegerus vir die jare van getroude lewe. Daarna het ek  aangehou maar tog op ’n paar staatmakerresepte vasgehaak. Eers twee jaar gelede toe Willemien begin belangstel het in kosmaak besef ek dat ek vir jare nooit beskuit of enige van my ou gunstelingresepte gemaak het nie. Was bloot te besig met kinders grootmaak en met my werk wat meer geword het hoe onafhankliker die kinders geraak het.

Ek het van kleins af oor my ma se noukeurige skouer geloer. Sy het nie altyd my meer kreatiewe benadering tot bak goedgekeur nie (want ’n mens moet mos versigtiger weeg en meet). Wat ek ’n gesonde belangstelling in bak sou noem, het bygedrae daar toe dat Christof my al jare terug as ’n effe “kompulsiewe bakker” beskryf het. Ek moet toegee daar was amper nie ’n verjaarsdag van een van my kinders (selfs so oud wat hulle nou al is) wat daar nie cupcakes gebak is nie. En ek wens ek het ’n paar van my ma se ou resepte hier wat ek nou weer kan uitprobeer.


’n Mens sien die mees ongelooflike dinge hier op TV (of dalk is dit by die huis ook so, ek kyk net nooit daar nie?) maar die idee van ’n cupcake ATM was vir my ’n baie vars konsep. So ’n maand voor ons besoek aan LA sien ons daar bestaan so ’n masjien met 24-uur diens. Ons moes die Sprinkles winkel in Beverley Hills gaan opsoek. Hierdie heerlike koekies is mos oral weer hoogmode en veral gewild in Amerika. Daar is talle winkels wat net daarin spesialiseer en nét dit verkoop met die mees ongelooflike kombinasies - kyk op Sprinkles se website en na die menu op kaartjie hieronder.
Dit werk so: Jy staan in ’n ry soos by alle ATMs, kies die cupcake van jou keuse op ’n touch screen en betaal $4 met ’n kaart 
(binne die winkel kos hulle $3). Daarna kyk jy na ’n video op die skerm waar jou cupcake met ’n armpie uitgehaal, in ’n boksie en op “draaitafel” geplaas word. Dit draai in die rondte, die deurtjie gaan oop en Voila! - enige tyd van die dag of nag.
Die meeste Amerikaners bak met vooraf bereide boksies wat in ’n reusagtige verskeidenheid beskikbaar is. Hulle dink dit is baie moeite om “from scratch” af te kos te maak of te bak. Dié term het ek jare gelede hier gehoor. Toe my ma hier kom kuier het, het sy dit baie amusant gevind, haar neus ’n bietjie opgetrek vir die lui Amerikaners en dit altyd met smaak oorvertel. 

Alhoewel die "ma op straat" kortpaaie neem (hulle moet die kombuis self opruim) is daar niks met hulle bakafdelings in die winkels verkeerd nie. Mens kry elke denkbare ding - ek wil nog in ’n hele blog skryf oor watter ongelooflike goed ek hier in die winkels raakloop. Om solank ’n idee te gee - kyk hoe lyk die helfte van die koekieuitdrukrak in ’n kombuiswinkel en kyk na die tweetjies wat ek aangeskaf het - watter kompulsiewe bakster sou dit kon weerstaan?