Monday, April 30, 2012

11. Please come to Boston in the spring time.





Please come to Boston in the spring time
I’m stayin’ here with some friends
And they’ve got lots of room.
You can sell your paintings on the sidewalk
By a cafe where I hope to be workin’ soon.
Please come to Boston...
(so sing Joan Baez) 


Die lente is behoorlik in die lug en oral sigbaar aan die bome en in die tuine. Dis ’n uitbarsting van kersiebloeisels, tulpe, affodille, azalias, wisterias en nog baie meer. Die seisoen is blykaar ’n maand te vroeg na die afgelope winter waarin daar ’n rekord-min sneeu was. Nou, laat in die seisoen sneeu dit nog noord van ons en die takke wat met bloeisels oortrek is word baie swaar van die sneeu. Gevolglik val daar meer bome om wat weer ander probleme veroorsaak.

Dit mag vreemd klink maar daar is ’n paar goed wat ek net oorsee doen: dra meestal tekkies, maak huis skoon, was wasgoed, brei(!) as ek ’n dvd kyk, ry fiets (net waar dit plat is - langs riviere of om eilande) en ’n nuwe een - ek maak ’n bietjie tuin.

By die huis is die tuin net te groot en te skuins en ek my werk hou my te besig om by meer uit te kom as petunias plant in die lente. Gelukkig het ek daar vir Johannes. Die tuintjie hier in Howlandstraat het jare laas enige aandag gehad. Die landlord maak geen aanstaltes om my te laat weet wie die tuindienste gaan lewer nie. Ek wag vir hom en hy wag seker vir my. Hier lê jare se dennenaalde, blare en tuinrommel in lae op mekaar. Verlede naweek het ek ingespring en gevee, gehark, geskoffel en “gesnoei” sonder ’n snoeiskêr. Dit moet die ongelooflike verskil in seisoene en die “aard na my ma” wees wat my instinktief beweeg het om te begin tuinmaak. Hier is ’n klomp plante, kompos en saailinge nodig. Die afgelope week het ek ’n paar saaitjies gesaai en nou hou ek duimvas dat daar blommetjies opkom in die oorwegend skadutuin. Daar is geen vervoer om sakke kompos, tuingrond of groot plante aan te ry nie en die drie maande wat oorbly regverdig geen uitgawes in hierdie verband nie. Christof is ook nie oortuig dat ek die landlord kan beloof dat ons so goed tuinmaak dat hy daarin kan belê nie. 



Paas Sondag se lenteblomme in die
Harvard-Epworth United Methodist Church.
Om wasgoed hier te was is eintlik ’n plesier en Renée help fluks. Die waskamer by die huis is buite die huis geleë en gelukkig kan ek vir Jemina bekostig om dit daar te doen. Niemand moet my vra waar hulle sokkies, broeke of gunstelinghemp is nie: dis nie my afdeling nie - ek dra dit nie, ek was dit nie en sit dit nie in hulle kaste nie - ek is om die waarheid te sê nie seker hoe die wasmasjien werk nie - ’n regte bevoorregte Suid-Afrikaanse vrou. Die masjiene in hierdie huis is in ’n helder verligte kelder en werk goed - alhoewel die sokkies steeds sonder maats daar uit kom en ek die strykery vermy so ver ek kan! 

Christof ry gereeld fiets maar ek skraap nog moed bymekaar nou dat dit begin warmer word. Ek is geen natuurlike fietsryer nie en Christof het destyds hier in Amerika, nadat ek van ’n fiets afgeval het, gedreig om my na my ma toe terug te stuur oor hy met n vrou getrou het wat nie kan fietsry nie (ter versagting wil ek aanvoer dat ek voor dit slegs twee keer in my lewe fiets gery het en ook nog swanger was (en hy kan nou nog nie dans nie!)). My eerste fiets het ek eers baie later op vier en dertigjarige ouderdom in Heidelberg, Duitsland gekry. Daar het ons heerlik op die fietspaadjies, langs mere en riviere gery. In Suid-Afrika is ek heeltemal te bang vir die verkeer en van veilige, plat fietspaadjies is daar nie sprake nie.

Soos in Europa word fietsryers hier ook gerespekteer en is daar gemerkte fietsroetes en paaie net vir fietsry. ’n Mens kan ongesteurd vir kilometers langs die Charlesrivier ry alhoewel ek hewige verkeer sal moet trotseer om daar uit te kom van waar ons bly. Daar is ook wit Boston Bikes in downtown Boston te huur - op sekere punte in die stad gooi jy geld in, sluit ’n wit fiets los en huur dit per uur. Dit word weer terug gegee op ’n volgende punt. Hier is baie moontlikhede om die stad in die lente te verken...

maak soos Joan sê -  come to Boston dan ry ons fiets.

Sunday, April 29, 2012

10. Everyone has got to have a “maatjie”



Renée en Denea

...dit was die wyse woorde van Ms Dee Pullen, destydse hoof van die Brooklyn Pre-Primary School toe Adam aanvanklik in die kleuterskool gesukkel het om ’n maatjie te maak. Willemien het nooit daardie probleem gehad nie - dit het altyd baie maklik gegaan maar dit het Adam langer geneem om ’n paar goeie pelle te maak, ook op laer- en hoërskool. 

Hier is ’n ernstige tekort aan ”maatjies”. Ek en Christof en Renée is hoofsaaklik mekaar se maatjies. Dis lekker en ons doen baie meer saam as wat dit die afgelope jare moontlik was. Verder hou ons daarvan om so ongekompliseerd en anoniem te leef vir ’n tydjie. Die telefoon lui amper nooit nie, niemand klop aan die deur nie en mens kan net aangaan met wat jy wil daardie dag wil doen.

Nou en dan het ek tog ’n behoefte om met ’n vriendin te gaan koffie drink en met iemand anders Afrikaans te praat as my huisgenote (Amerikaans sal ook OK wees ek sal selfs weer Duits probeer as dit moet.) Amerikaners is oor die algemeen baie vriendelik (soos die in my kunsklasse) maar doen nie moeite om vriende te maak of om jou huis toe te nooi nie. 

Toe ons voorheen oorsee gebly het en die kinders klein was het dit gereeld gebeur dat die kinders veroorsaak dat die ouers ook “maatjies maak” want hulle wil oor en weer speel.  Renée is nou groot en stap alleen skool toe. Daar is ook geen sprake van buitemuurse aktiwiteite of kontak by die skool vir die ouers nie. Sy is baie gelukkig in die special needs klas van die Rindge and Latin School - die reuse hoërskool hier in Cambridge. Renée sê "in Amerika word haar drome waar” want sy wou nog altyd Hollywood toe gegaan en in ’n Amerikaanse skool met haar eie locker gewees het - en dit het gebeur. Nog ’n droom wat waar geword het is dat sy ’n maatjie (met twee tattoes! - nog ’n bonus) by die skool gemaak het. (Nie dat Katrin of Jessica by die huis vervang kan word nie, maar darem). Met Denea kan sy nou en dan gaan fliek, oor TV, celebrities en dies meer gesels - ek is nie baie goed daarmee nie. 

Christof mis ook sy vriende by die huis maar het minder tyd vir kuier. Gelukkig kom twee van sy maatjies binnekort. De Wet Marais en Thomas van Tonder kom gedurende die laaste twee weke van Mei hier ’n draai maak. My enigste kans op ’n maatjie wat kom kuier is Hermien Wright, wat beplan om in Junie te kom. Ek sien baie uit daarna - ’n mens wil graag ’n bietjie van die ondervindinge met iemand deel wat dit kan waardeer. Christof gaan in daardie tyd op n lang trip na Washington DC en direk daarna na Geneve.
Ons bure in Howlandstraat. Die pragtige Dogwood Tree
is 25 jaar gelede geplant, nou in volle blom.
Howland Street waarin ons bly, is ’n baie kort straat met inwoners wat al jare lank hier bly. Die meeste is heelwat ouer as ons en is al sedert die 70er jare hier woonagtig. Hulle gee die afgelope 20 jaar ’n koerantjie, “The Howl” uit, met al die nuus van die mense in die straat en nabye omgewing. Een van hierdie bure het ons genooi na ’n Passover Seder op Goeie Vrydag en het die Joodse paasfees op “moderne tradisionele” manier saam met hulle en ’n klompie vriende gevier. 

Ons het een keer met kollegas van Christof gaan ontbyt eet en ek het eenkeer met ’n oud-student van Christof gaan lunch en dit is dit. Verder het ons een jong Afrikaanse vriendin, Mia Verdoorn, ’n opkomende sangeres, oor wie ek later meer sal skryf. 

Plaaslike sosiale konneksies bly dus baie beperk. Om met ons vriende te maak is nie eintlk ’n belegging nie want ons bly te kort hier maar ek mis so nou en dan ’n maatjie. Dit bring my by die volgende onderwerp...