Vier paragrawe hier onder is al wat ek van Christof kon kry vir n guest appearance. Hy het verlede week in Washington klas gegee en is nou in Geneve vir ’n week. Onderaan is die plakkaat van ’n paneelbepreking oor die doodstraf wat gereël word vir die einde van Junie hier by Harvard.
Dan kry ek ook tyd om met my huismaats deur te bring. Fearika het weer begin skilder en teken en loop soos die jong student op wie ek jare gelede verlief geraak het met groot leêrs rond met prente van blomme en ja, sketse van kaal vroue! Ek leer Renée baie beter ken, en sien hoe dapper sy elke dag aanpak.
En dan is daar die kans om van buite oor ons land te dink. Aan die een kant is daar steeds die gevoel dat ons die kans het om iets besonders reg te kry; aan die ander kant klink dit my ons - eintlik veral ons leiers - spandeer ons tyd op onsinnighede en laat die geleenthede by ons verbygaan. Maar dit is seker nie iets wat Stilbaai nie weer kan regmaak nie.
Die VN hou my baie besig, veral as mens in gedagte hou dat hulle niks betaal nie. Ek was vir twee weke in ‘n land ver van hier, wat ‘n baie goeie ervaring was - as mens die laaste paar uur toe ek my aanbevelings voorgelê het en lughawe toe gejaag het buite rekening laat. Mens kry soms die gevoel regerings wil he jy moet hulle prys vir al die miljoene mense wat nog leef, en nie die partytjie bederf deur die kwessie van die paar duisend wat dit nie gemaak het, aan te roer nie. Soos Carike immers lankal reeds gesê het, ‘Man Heinrich, kom ons fokus op die positiewe in die lewe, nie al die ou nare vieslikhede nie.’
Stap en fietsry is gelukkig ook deel van die verblyf hier. |