Saint John the Divine katedraal 112e str NY,NY |
Die beeld met oa Martin Luther King, Einstein en Ghandi regs |
Ons het twee weke gelede nog heerlik saam met Willemien en Arné gekuier, saam New York toe gegaan en baie dinge gedeel. Ek het geweet as daardie uitstappie verby is, is ons in die pylvak. Nou is dit afdraend en gaan dit vinnig. Ons laaste dae loop uit en dis ’n storie om alles af te handel.
Ek moet tog ’n paar van ons New York ondervindinge deel. Op aanbeveling van Nina, Willemien se vriendin, het ons St John the Divine katedraal besoek en dit baie interessant gevind. Die reuse katedraal is aan die einde van die 1800's gebou vir almal van verskillende gelowe wat uit verskillende wêrelddele in New York aangekom het - "A House of prayer for all people". Die mees onlangse permanente kunswerk in die katedraal is ’n klein beeld met oa Ghandi, Einstein en Martin Luther King. Die kerk word wel deur die Episcopal orde van New York bestuur maar dis ’n baie inklusiewe kerk waar daar gereeld kunsuitstallings gehou word en almal welkom voel. Daar is tans ’n uitstalling om die tsunami in Japan in 2011 te herdenk - oa aangrypende kort verse wat deur Japannese geskryf is na afloop van die tragedie. Daarna het ons gaan eet by Miss Mamie's Southern Cooking. Dit was n regte bord "boerekos" met soet pampoen en ’n paar ekstras soos fried chicken, corn bread en ribbetjies.
Willemien, Arné en Christof het in Central Park gaan fietsry en ek en Renée het lang myle in die avenues afgelê. Sy het allerande bestellings gehad van waar sy nog n draai moes maak. Sy onthou heelwat van New York van ons trip in 2003. Ons was albei teleurgesteld dat die groot brass beer nie meer buite FOA Schwarz speelgoedwinkel is nie maar ons was vreeslik beïndruk met hulle lekkergoed afdeling en die soft toys. Jy kan dit nie glo nie - van ’n pou tot ’n zebra, leeu en bruinbeer - lewensgrootte!
Die reuse Apple Macintosh winkel is ook iets om te aanskou - daar is op enige tyd van die dag of nag ’n menigte besoekers en letterlik 100e winkelassistente met blou hemde aan wat verduidelik en verkoop.
Drinks op die dak van die Yale Club |
Hillet en ek in Albertus se studio. |
Hoogtepunt was Mary Poppins die musical wat ons almal gaan kyk het. Dit was ’n jarelange droom van my. Daar was ’n paar nuwe liedjies aan die begin wat vir my, wat dit uit my kop ken, onkant gevang het. Tog is dit baie oulik deel gemaak van die produksie en die spesiale effekte was asemrowend. Die hele produksie was nie so getrou aan die fliek soos ander musicals nie, maar dit was Broadway op sy beste en in die tweede helfte het hulle my oortuig. Net so jammer Adam was nie hier nie. Hy ken mr Banks en Bert se lirieke uit sy kop. Soos hy altyd sê, Bert is sy gunsteling musical karakter. Ek het die ander ook gestuur om One Man Two Guvnors te gaan kyk wat ek net Hermien so geniet het - gelukkig het hulle dit ook skreeusnaaks gevind.
Nadat ons van Willemien en Arné afskeid geneem het, het ek, Christof en Renée Warhorse by die Lincoln Center gaan kyk. Die lewensgrootte "perde" is deur die Suid-Afrikaners gemaak - die Handspring Puppet Company. Die produksie speel ook in London en was in Kaapstad maar ons het dit nog nie in Gauteng gesien nie. Dit was buitengewoon. Ek hoop regtig dit gaan spoedig in Johannesburg op die planke wees - is dit nie dalk al nie?
Uitsig op Rocky Neck bay uit die pragtige hotelkamer. |
Gloucester |
Singing beach by Manchester. So genoem omdat die sand so fyn is dat dit "sing" as jy daarop trap. Dis skaars hier maar ek het hulle verseker daar is baie sulke strande in onse Kaap. |
Ek het op die ou end twee ouer vriendinne gemaak (albei dmv kunsklasse). Ek hoop ons paaie sal weer kruis. Dit het ’n tyd geneem om mense te leer ken. Ek dink dis deels omdat ons in die winter hier aangekom het en almal meer huisgebonde was. Mense gaan nou meer uit en is in ’n bui vir kuier. Net jammer ons is nou al weer op pad.
Maar nou ja, alhoewel Christof nog nie uitgekuier is nie, is ek effe uitgekuier sonder ’n motor en Renée is uitgekuier met haar ma, so dis sekerlik tyd om huis toe te gaan!
Wat ons by die huis gaan aantref is onseker - graffiti in die garage, ’n pooltafel in my sitkamer en ’n hele filmspan wat daar woon en besig is om ’n fliek te skiet...