SA vlag hier in die hawe |
Ek moet net gou vertel van Ptown hier noord van die ewenaar. Om Hermien ’n idee van New England en die eiland gevoel van Cape Cod te laat ervaar, het ek dit goed gedink om ’n uitstappie vir my, haar en Renée te reel na Provincetown. Hierdie P-town is geleë aan die puntjie van Massachuesetts en is waarskynlik die oudste plek in die staat. Hulle vertel dat die Mayflower eerste daar aan gekom het in 1620 maar later na Plymouth gevaar het omdat daar nie genoeg vars water op die klein skiereiland te vinde was nie.
Daar is vele mooi gesigte en vergesigte, veral vanaf die grootste graniet toring in die noordelike halfrond wat hier gebou is in die vroeë 1900's om die koms van die eerste setlaars te herdenk. Op ’n mooi dag kan ’n mens van bo af (215 trappies) tot in Boston sien.
HIer het ek déja vu gehad - ewe skielik onthou dat ons hier was in 1987 toe ek Willemien verwag. Ons het ’n foto met my groot maag saam met die oom sn geneem. Die beeld heet: "Tourists". |
Ons het heerlik clam chowder en vis geëet, verskeie glasies koue witwyn gedrink, interessante soetgoed uitprobeer en selfs op die strand gestap. Hermien het baie foto's geneem. Die aansig van Boston in die dag toe ons vertrek het en die volgende aand met die liggies toe ons teruggekom het op die Fast ferry was ook asemrowend om te sien.
Die ander hoogtepunt vir my en Hermien was ons besoek aan die Isabella Stewart Gardner Museum hier in Boston. Mrs Jack, soos sy bekend gestaan het, is in 1924 oorlede en het ’n klein paleis vol van kosbaarhede vir die Bostoniete agtergelaat. Sy het die kunsmuseum self laat bou na haar man se dood en hulle groot skat van Europese en Amerikaanse kuns daarin uitgestal. Kyk gerus na die website. http://www.gardnermuseum.org/ Sy was ’n eksentrieke vrou met baie spesifieke idees. Sy het bepaal dat niks na haar dood verander mag word nie. Na ’n inbraak in 1990 waartydens 13 waardevolle kunswerke (oa Rembrandt se enigtse seeskap) gesteel is, is die rame net so leeg gelaat. Daar is wel baie onlangs ’n nuwe moderne toevoeging gebou waar musiekkonserte plaasvind, die museumwinkel nou is en ’n trendy restaurant geleë is.
Nog ’n van die oulikheid van die museum is dat almal met die voornaam: "Isabella" kwalifiseer vir lewenslange gratis lidmaatskap. Ek het juis vandag gedink, ek ken eintlik net een Isabella, en dit is my skoonsus Hillet, se sussie Anoet se oulike dogter. Sy sal later van Boston ’n bestemming moet maak om haar lidmaatsksap te kom opeis.
Hermien se besoek is op ’n baie patriotiese Amerikaanse Star Sprangled Banner manier afgesluit met ons bywoning van die Visions of America konsert deur die Boston Pops, soliste en reuseskermvertoning. Die foto's is geneem deur ’n fotograaf wat dit sy missie gemaak het om die hele Amerika oor 20 jaar af te neem. Dit was nogal iets om te aanskou. Behalwe vir die ongelooflike fotos het ek lanklaas ’n orkes met ses basviole in aksie gesien! Dis natuurlik simfonie met ’n difference maar dit was n heerlike aand en die Boston Pops is sinoniem met Boston, ek moes hulle hoor.
Almal is nou reg vir die 4th of July feesvieringe wat voorlê en daarna is dit nie meer lank voor ons terug in die regte Ptown is nie.
Die besondere beeld van Arthur Fiedler, dirigent van die Boston Pops wat hulle in die 1970's populêr gemaak het. |