Tuesday, July 24, 2012

19. Van kuier tot uitgekuier.


Saint John the Divine katedraal 112e str NY,NY
Die beeld met oa Martin Luther King, Einstein en Ghandi regs


Ons het twee weke gelede nog heerlik saam met Willemien en Arné gekuier, saam New York toe gegaan en baie dinge gedeel. Ek het geweet as daardie uitstappie verby is, is ons in die pylvak. Nou is dit afdraend en gaan dit vinnig. Ons laaste dae loop uit en dis ’n storie om alles af te handel.


Ek moet tog ’n paar van ons New York ondervindinge deel. Op aanbeveling van Nina, Willemien se vriendin, het ons St John the Divine katedraal besoek en dit baie interessant gevind. Die reuse katedraal is aan die einde van die 1800's gebou vir almal van verskillende gelowe wat uit verskillende wêrelddele in New York aangekom het - "A House of prayer for all people". Die mees onlangse permanente kunswerk in die katedraal is ’n klein beeld met oa Ghandi, Einstein en Martin Luther King. Die kerk word wel deur die Episcopal orde van New York  bestuur maar dis ’n baie inklusiewe kerk waar daar gereeld kunsuitstallings gehou word en almal welkom voel. Daar is tans ’n uitstalling om die tsunami in Japan in 2011 te herdenk - oa aangrypende kort verse wat deur Japannese geskryf is na afloop van die tragedie. Daarna het ons gaan eet by Miss Mamie's Southern Cooking. Dit was n regte bord "boerekos" met soet pampoen en ’n paar ekstras soos fried chicken, corn bread en ribbetjies. 





Willemien, Arné en Christof het in Central Park gaan fietsry en ek en Renée het lang myle in die avenues afgelê. Sy het allerande bestellings gehad van waar sy nog n draai moes maak. Sy onthou heelwat van New York van ons trip in 2003. Ons was albei teleurgesteld dat die groot brass beer nie meer buite FOA Schwarz speelgoedwinkel is nie maar ons was vreeslik beïndruk met hulle lekkergoed afdeling en die soft toys. Jy kan dit nie glo nie - van ’n pou tot ’n zebra, leeu en bruinbeer - lewensgrootte! 







Die reuse Apple Macintosh winkel is ook iets om te aanskou - daar is op enige tyd van die dag of nag ’n menigte besoekers en letterlik 100e winkelassistente met blou hemde aan wat verduidelik en verkoop.
Drinks op die dak van die Yale Club
Ons verblyf was fantasties. Christof het onlangs ingegee en by die Yale Club aangesluit. Dit is ’n ouwêreldse club vir Yale alumni en vriende reg oorkant die straat van Grand Central Station af. Ons het in 2003 ook drie aande daar op iemand anders se uitnodiging gebly en dadelik verlief geraak op die plek. Die wonderlike ligging gaan vir Christof baie ure se rondsoek na hotelle en ander verblyf spaar. Daar is ’n Yale club in die meeste groot wêreldstede en dit is baie gerieflik. Ook baie goedkoper as ’n goeie hotelkamer in Manhattan. 
Hillet en ek in Albertus se studio.


Skoonsus Hillet het van Kalifornie af gekom na Streicher wat tydelik in New Jersey werk. Sy het dit so gereël dat ons mekaar weer kan sien en n bietjie kan kuier. Ons was saam na Albertus se studio en het ’n hoed vir Adam daar gaan oplaai. Willemien het dit saam huistoe geneem (sien foto onderaan).


Hoogtepunt was Mary Poppins die musical wat ons almal gaan kyk het. Dit was ’n jarelange droom van my. Daar was ’n paar nuwe liedjies aan die begin wat vir my, wat dit uit my kop ken, onkant gevang het. Tog is dit baie oulik deel gemaak van die produksie en die spesiale effekte was asemrowend. Die hele produksie was nie so getrou aan die fliek soos ander musicals nie, maar dit was Broadway op sy beste en in die tweede helfte het hulle my oortuig. Net so jammer Adam was nie hier nie. Hy ken mr Banks en Bert se lirieke uit sy kop.  Soos hy altyd sê, Bert is sy gunsteling musical karakter. Ek het die ander ook gestuur om One Man Two Guvnors te gaan kyk wat ek net Hermien so geniet het - gelukkig het hulle dit ook skreeusnaaks gevind.


Nadat ons van Willemien en Arné afskeid geneem het, het ek, Christof en Renée Warhorse by die Lincoln Center gaan kyk. Die lewensgrootte "perde" is  deur die Suid-Afrikaners gemaak - die Handspring Puppet Company. Die produksie speel ook in London en was in Kaapstad maar ons het dit nog nie in Gauteng gesien nie. Dit was buitengewoon. Ek hoop regtig dit gaan spoedig in Johannesburg op die planke wees - is dit nie dalk al nie?
Uitsig op Rocky Neck bay uit die pragtige hotelkamer.
Gloucester
Ons het die afgelope naweek ’n motor gehuur en ’n vinnige draai op die North Shore gaan maak, dis ’n klipgooi van Boston af. Ons is deur Ipswich na Manchester se Singing beach tot by Gloucester waar ons oorgeslaap het met die mees spectacular view in ’n lang tyd. Kyk na die foto's. Rocky Neck is deel van Goucester huisves ’n kunskolonie aan die kus. Dis eintlik platteland maar wat sal ons  in die local teatertjie sien? Athol Fugard se "Master Harold and the boys" word later in hierdie week daar opgevoer. Dit het my sommer na ons oorslaapplek in Nieu Betesda laat verlang.


Hierdie vrou se winkel is oop en werk op die "honesty" beginsel.
As sy nie daar is nie vra sy mooi dat jy die kontant
vir haar in die mandjie sal sit, elektronies
sal betaal, of n tjek sal stuur as jy by die huis kom!
Singing beach by Manchester. So genoem omdat die sand so fyn is
dat dit "sing" as jy daarop trap. Dis skaars hier maar ek het hulle verseker
daar is baie sulke strande in onse Kaap.
Ons is besig om oral totsiens te sê en afskeid te neem. Donderdagaand hou ons ’n klein getogether om die paar vriende te groet en ’n klomp goed uit te deel wat ons nie kan saamneem huistoe nie. 


Ek het op die ou end twee ouer vriendinne gemaak (albei dmv kunsklasse). Ek hoop ons paaie sal weer kruis. Dit het ’n tyd geneem om mense te leer ken. Ek dink dis deels omdat ons in die winter hier aangekom het en almal meer huisgebonde was. Mense gaan nou meer uit en is in ’n bui vir kuier. Net jammer ons is nou al weer op pad.


Maar nou ja, alhoewel Christof nog nie uitgekuier is nie, is ek effe uitgekuier sonder ’n motor en Renée is uitgekuier met haar ma, so dis sekerlik tyd om huis toe te gaan! 


Wat ons by die huis gaan aantref is onseker - graffiti in die garage, ’n pooltafel in my sitkamer en ’n hele filmspan wat daar woon en besig is om ’n fliek te skiet...



Saturday, July 7, 2012

18. Drie nagtegale en 4 Julie in Boston.


Willemien in LUSH - ’n sensoriese geheelervaring.
Blye weersiens!
Whole Foods -verkeidenheid par excellence
Ons hou by ons vorige streng dieet van verlede somer
in Noorweë en Denemarke - salm en roomys!

Willemien het kom kuier en Arné het ’n week later opgedaag. Dit is te lekker om Willemien aan haar geboorteland bekend te stel nadat sy nog net een maal vir 3 weke weer hier was op 16. Renée was skoon oorstelp om haar sussie weer te sien en ons gesels een stryk deur. Dis heerlik om te sien hoe Willemien die Amerikaanse manier van doen bekyk, geniet en bewonder. Dis nou sonder om blind te wees vir hulle foute. Ons hardloop letterlik van plek na plek om alles in te pas. Dis ook vir haar en Arné n welverdiende vakansie na ’n baie besige eerste ses maande van die jaar.
4th of July - onafhanklikheidsdag in Amerika





Woensdag was dit 4th of July en daar was groot feesvieringe oral in Amerika en ook hier in Boston. Ons het op 3 Julie na die volle kleedrepetisie van die Boston Pops se optrede vir die 4e gaan luister. Hulle het die oa die 1812 overture uitgevoer, kannonne en al - vanjaar is mos die 200e herdenking. 
Toe ’n hooggeplaaste in die weermag voorheen voorgestel het
die 1812 overture moes uitgevoer word op 4 Julie
het Athur Fiedler (dirigent van Boston Pops in 1970's - foto van sy beeld)
blykbaar vir die man gesê:
"You bring the canons, I'll bring the band"
Ons het gehoor mens kan op 4 Julie net naby aan die orkes kom indien jy van die oggend al langs die Charlesrivier uitkamp - so entoesiasties is ons nou nie. Die kleedrepetisie was toe ook stampvol - ek kon dit nie glo nie! Die skare was goed onder beheer en daar was duisende mense wat luister, op die grasperke sit en kos koop by stalletjies. Mens kon nie glo dat dit net die kleedrepetisie was nie. Ons het wel die 4e af gestap rivier toe om van die Cambridge kant af na die vuurwerkvertoning te kyk. Daar was ’n groterwordende skare aan ons kant van die rivier hoe nader ons aan die esplanade beweeg het waar al die aksie sou plaasvind. Die hele aand was die weer dreigend en net toe almal wou opgee, moeg en huilerig word en die eerste druppels begin val, bars die grootste vuurwerkvertoning wat ek nog ooit gesien het, los!

Mooi meisies in Newburyport



Om ons eie nagtegaal by ons te hê is baie lekker en ek kon nie wag om haar ook aan ’n ander een hier voor te stel nie: Mia Verdoorn. Hulle kon heerlik gesels oor die musiekbedryf en nuwe maniere van bemark nou dat  CD verkope wêreldwyd daal en musikante se oorspronklike musiek alles verniet op die internet beskikbaar is. Mia het ons nou die dag met haar splinternuwe kar kom oplaai vir ’n uitstappie na Newburyport op die North Shore. Dis ’n pragtige dorpie met die mooiste winkels en uithangbordjies. Dis elke keer vir my en Renée besonder lekker as iemand ons oplaai - moeg geloop!

Hierdie foto is in Maart saam met Mia en Mik, haar kêrel, geneem.
Hy organiseer die Amerikaanse Rugby League
in die Noord-Ooste van Amerika
Ek het vir Mia aan die begin van ons verblyf gekontak nadat Nancy Blomerus my herinner het dat sy hier is. Sy is ’n opkomende Suid-Afrikaanse sangeres  wat haar studies by Berklee College of Music voltooi het en nou hier werk en woon op ‘n kunstenaarsvisum vir mense met “extraordinary skills”. Haar ouers is Len en Petra Verdoorn wat in Lynnwood woon. (Hy argitek en sy interieur ontwerper)  Hulle is ou vriende van my broer Willem. Ek ken hulle ook van Oost-Eind Laerskool en Affie dae af. Len se jonger broer Marius, was saam met Christof in matriek. Mia is my kinders se ouderdom en is die enigste Afrikaanse vriendin wat ek hier het. Sy is ’n pragtige gemaklike meisie sonder fieterjasies met baie talent. Sy sing rock, pop en jazz - enigiets wat die spesifieke show vereis waar sy en haar band (met wisselende lede) moet optree. Kyk gerus na haar webtuiste en CV: www.miaverdoorn.com




Ek moet gou ’n advertensie vir haar inwerk: Mia stel haar tweede CD op 29 September in die Atterbury teater in Pretoria bekend. Sy gaan die aand optree en Juan Oosthuizen is die plaaslike musikant wat vir haar ’n band bymekaar gaan stel. Hulle het voorheen saam gewerk. Sy was in DSG op skool en is as 16-jarige deur Randall Abrahams van Idol-faam gekies om ou Afrikaanse liedjies wat oor verwerk is, op te neem. Sy moes die projek staak toe sy aanvaar is om by Berklee te kom swot. Wat ek eintlik wil sê: hou asb die aand oop en kom ondersteun haar. Die kaartjies is reeds by Computicket beskikbaar.




Die bekendste nagtegaal van die drie is Norah Jones wie se vertoning ek en Christof op 1 Julie gaan kyk het. Dit was in die pragtige Bank of America venue op die waterfront en is bygewoon deur ’n baie “well-dressed, well-behaved crowd” - soos ek laas oor Pavarotti op Loftus se skare gevoel het. Tipies ons, het ons natuurlik eers twee ure voor die konsert begin het, vas besluit dat ons wil gaan. Ons kry toe laaste minuut VIP kaartjies wat teen ’n groot afslag te koop was op die internet en land in die tweede ry. Ek kon my oë nie glo nie!

Norah se show was meesleurend, goed afgerond en sonder ’n klomp gepraat tussenin. Sy het mos ’n stem (soos Luna Paige in SA) waarvoor ek nie moeg raak nie - anders as Katie Melua wat op ’n spesifieke toonhoogte my tandvleis laat kriewel. Norah is bygestaan deur ’n baie talentvolle, tight band. Sy het ’n elektriese en akoestiese kitaar bespeel en dit soms afgewissel met klavier - die style het gewissel van jazz, rock tot amper “upmarket country”. Ek was baie beindruk met haar jazz aanslag op die klavier toe sy heeltemal alleen op die verhoog was en haar aangename, onopgesmukte persoonlikheid. Mens moet seker in gedagte hou dat haar pa - Ravi Shankar - die bekende Indiese siterspeler (en Amerikaanse musiekma) se talent defnitief oorgedra moes word en nou op eg Amerikaanse manier deur haar uitgevoer word.


Christof het ’n bietjie laat onthou hy kon Norah se konsert en ons seilery saam met die kinders in Boston se hawe as krediet gebruik het vir die feit dat ons op 5 Julie 27 jaar getroud was. Dit was heerlike uitstappies.




Een van die "Tall Ships" in die hawe.
Hulle lê duisende kilometers af om op bepaalde plekke
in die wêreld te pronk op gedenkwaadige tye.


5 Julie 27jaar getroud, geseënd, gesond - dankbaar!




Thursday, June 21, 2012

17. Van Ptown na Ptown



SA vlag hier in die hawe

Dinge gaan nou vinnig, ons tydjie spoed verby. Môre kom Christof van Geneve af terug en Willemien kom uit Pretoria hier aan vir haar lang verwagte kuiertjie!


Ek moet net gou vertel van Ptown hier noord van die ewenaar. Om Hermien ’n idee van New England en die eiland gevoel van Cape Cod te laat ervaar, het ek dit goed gedink om ’n uitstappie vir my, haar en Renée te reel na Provincetown. Hierdie P-town is geleë aan die puntjie van Massachuesetts en is waarskynlik die oudste plek in die staat. Hulle vertel dat die Mayflower eerste daar aan gekom het in 1620 maar later na Plymouth gevaar het omdat daar nie genoeg vars water op die klein skiereiland te vinde was nie. 










Tans is dit ’n somer- en toeriste dorp (omtrent die grootte en dinamiek van Stilbaai in die somer) en staan ook bekend as een van die gay hoofstede van Amerika. Gaypaartjies is baie volop en daar is so ’n gees van "vryheid" in die lug. Ons drie vroue het natuurlik baie keer gegiggel en ek en Hermien het vir Renée gesê ons gaan vir haar een van die T-shirts in die winkel koop wat sê - "I love my two moms"! Nou ja, is dit nie wonderlik dat daar ’n plek op aarde kan wees waar mense kan leef en vakansie hou sonder enige vooroordele nie. Moet sê, kinders is oor die algemeen skaars in Provincetown.








Daar is vele mooi gesigte en vergesigte, veral vanaf die grootste graniet toring in die noordelike halfrond wat hier gebou is in die vroeë 1900's om die koms van die eerste setlaars te herdenk. Op ’n mooi dag kan ’n mens van bo af (215 trappies) tot in Boston sien.



HIer het ek déja vu gehad - ewe skielik onthou dat ons hier was in 1987 
toe ek Willemien verwag. Ons het ’n foto met my groot maag 
saam met die oom sn geneem.
Die beeld heet: "Tourists".


Ons het heerlik clam chowder en vis geëet, verskeie glasies koue witwyn gedrink, interessante soetgoed uitprobeer en selfs op die strand gestap. Hermien het baie foto's geneem. Die aansig van Boston in die dag toe ons vertrek het en die volgende aand met die liggies toe ons teruggekom het op die Fast ferry was ook asemrowend om te sien.





Die ander hoogtepunt vir my en Hermien was ons besoek aan die Isabella Stewart Gardner Museum hier in Boston. Mrs Jack, soos sy bekend gestaan het, is in 1924 oorlede en het ’n klein paleis vol van kosbaarhede vir die Bostoniete agtergelaat. Sy het die kunsmuseum self laat bou na haar man se dood en hulle groot skat van Europese en Amerikaanse kuns daarin uitgestal. Kyk gerus na die website. http://www.gardnermuseum.org/ Sy was ’n eksentrieke vrou met  baie spesifieke idees. Sy het bepaal dat niks na haar dood verander mag word nie. Na ’n inbraak in 1990 waartydens 13 waardevolle kunswerke (oa Rembrandt se enigtse seeskap) gesteel is, is die rame net so leeg gelaat. Daar is wel baie onlangs ’n nuwe moderne toevoeging gebou waar musiekkonserte plaasvind, die museumwinkel nou is en ’n trendy restaurant geleë is.


Nog ’n van die oulikheid van die museum is dat almal met die voornaam: "Isabella" kwalifiseer vir lewenslange gratis lidmaatskap. Ek het juis vandag gedink, ek ken eintlik net een Isabella, en dit is my skoonsus Hillet, se sussie Anoet se oulike dogter. Sy sal later van Boston ’n bestemming moet maak om haar lidmaatsksap te kom opeis.




Hermien se besoek is op ’n baie patriotiese Amerikaanse Star Sprangled Banner manier afgesluit met ons bywoning van die Visions of America konsert deur die Boston Pops, soliste en reuseskermvertoning. Die foto's is geneem deur ’n fotograaf wat dit sy missie gemaak het om die hele Amerika oor 20 jaar af te neem. Dit was nogal iets om te aanskou. Behalwe vir die ongelooflike fotos het ek lanklaas ’n orkes met ses basviole in aksie gesien! Dis natuurlik simfonie met ’n difference maar dit was n heerlike aand en die Boston Pops is sinoniem met Boston, ek moes hulle hoor. 


Almal is nou reg vir die 4th of July feesvieringe wat voorlê en daarna is dit nie meer lank voor ons terug in die regte Ptown is nie.


Die besondere beeld van Arthur Fiedler,
 dirigent van die Boston Pops wat hulle in die 1970's populêr gemaak het.