Willemien in LUSH - ’n sensoriese geheelervaring. |
Blye weersiens! |
Whole Foods -verkeidenheid par excellence |
Ons hou by ons vorige streng dieet van verlede somer in Noorweë en Denemarke - salm en roomys! |
Willemien het kom kuier en Arné het ’n week later opgedaag. Dit is te lekker om Willemien aan haar geboorteland bekend te stel nadat sy nog net een maal vir 3 weke weer hier was op 16. Renée was skoon oorstelp om haar sussie weer te sien en ons gesels een stryk deur. Dis heerlik om te sien hoe Willemien die Amerikaanse manier van doen bekyk, geniet en bewonder. Dis nou sonder om blind te wees vir hulle foute. Ons hardloop letterlik van plek na plek om alles in te pas. Dis ook vir haar en Arné n welverdiende vakansie na ’n baie besige eerste ses maande van die jaar.
4th of July - onafhanklikheidsdag in Amerika |
Woensdag was dit 4th of July en daar was groot feesvieringe oral in Amerika en ook hier in Boston. Ons het op 3 Julie na die volle kleedrepetisie van die Boston Pops se optrede vir die 4e gaan luister. Hulle het die oa die 1812 overture uitgevoer, kannonne en al - vanjaar is mos die 200e herdenking.
Ons het gehoor mens kan op 4 Julie net naby aan die orkes kom indien jy van die oggend al langs die Charlesrivier uitkamp - so entoesiasties is ons nou nie. Die kleedrepetisie was toe ook stampvol - ek kon dit nie glo nie! Die skare was goed onder beheer en daar was duisende mense wat luister, op die grasperke sit en kos koop by stalletjies. Mens kon nie glo dat dit net die kleedrepetisie was nie. Ons het wel die 4e af gestap rivier toe om van die Cambridge kant af na die vuurwerkvertoning te kyk. Daar was ’n groterwordende skare aan ons kant van die rivier hoe nader ons aan die esplanade beweeg het waar al die aksie sou plaasvind. Die hele aand was die weer dreigend en net toe almal wou opgee, moeg en huilerig word en die eerste druppels begin val, bars die grootste vuurwerkvertoning wat ek nog ooit gesien het, los!
Mooi meisies in Newburyport |
Om ons eie nagtegaal by ons te hê is baie lekker en ek kon nie wag om haar ook aan ’n ander een hier voor te stel nie: Mia Verdoorn. Hulle kon heerlik gesels oor die musiekbedryf en nuwe maniere van bemark nou dat CD verkope wêreldwyd daal en musikante se oorspronklike musiek alles verniet op die internet beskikbaar is. Mia het ons nou die dag met haar splinternuwe kar kom oplaai vir ’n uitstappie na Newburyport op die North Shore. Dis ’n pragtige dorpie met die mooiste winkels en uithangbordjies. Dis elke keer vir my en Renée besonder lekker as iemand ons oplaai - moeg geloop!
Hierdie foto is in Maart saam met Mia en Mik, haar kêrel, geneem. Hy organiseer die Amerikaanse Rugby League in die Noord-Ooste van Amerika |
Ek het vir Mia aan die begin van ons verblyf gekontak nadat Nancy Blomerus my herinner het dat sy hier is. Sy is ’n opkomende Suid-Afrikaanse sangeres wat haar studies by Berklee College of Music voltooi het en nou hier werk en woon op ‘n kunstenaarsvisum vir mense met “extraordinary skills”. Haar ouers is Len en Petra Verdoorn wat in Lynnwood woon. (Hy argitek en sy interieur ontwerper) Hulle is ou vriende van my broer Willem. Ek ken hulle ook van Oost-Eind Laerskool en Affie dae af. Len se jonger broer Marius, was saam met Christof in matriek. Mia is my kinders se ouderdom en is die enigste Afrikaanse vriendin wat ek hier het. Sy is ’n pragtige gemaklike meisie sonder fieterjasies met baie talent. Sy sing rock, pop en jazz - enigiets wat die spesifieke show vereis waar sy en haar band (met wisselende lede) moet optree. Kyk gerus na haar webtuiste en CV: www.miaverdoorn.com
Ek moet gou ’n advertensie vir haar inwerk: Mia stel haar tweede CD op 29 September in die Atterbury teater in Pretoria bekend. Sy gaan die aand optree en Juan Oosthuizen is die plaaslike musikant wat vir haar ’n band bymekaar gaan stel. Hulle het voorheen saam gewerk. Sy was in DSG op skool en is as 16-jarige deur Randall Abrahams van Idol-faam gekies om ou Afrikaanse liedjies wat oor verwerk is, op te neem. Sy moes die projek staak toe sy aanvaar is om by Berklee te kom swot. Wat ek eintlik wil sê: hou asb die aand oop en kom ondersteun haar. Die kaartjies is reeds by Computicket beskikbaar.
Die bekendste nagtegaal van die drie is Norah Jones wie se vertoning ek en Christof op 1 Julie gaan kyk het. Dit was in die pragtige Bank of America venue op die waterfront en is bygewoon deur ’n baie “well-dressed, well-behaved crowd” - soos ek laas oor Pavarotti op Loftus se skare gevoel het. Tipies ons, het ons natuurlik eers twee ure voor die konsert begin het, vas besluit dat ons wil gaan. Ons kry toe laaste minuut VIP kaartjies wat teen ’n groot afslag te koop was op die internet en land in die tweede ry. Ek kon my oë nie glo nie!
Norah se show was meesleurend, goed afgerond en sonder ’n klomp gepraat tussenin. Sy het mos ’n stem (soos Luna Paige in SA) waarvoor ek nie moeg raak nie - anders as Katie Melua wat op ’n spesifieke toonhoogte my tandvleis laat kriewel. Norah is bygestaan deur ’n baie talentvolle, tight band. Sy het ’n elektriese en akoestiese kitaar bespeel en dit soms afgewissel met klavier - die style het gewissel van jazz, rock tot amper “upmarket country”. Ek was baie beindruk met haar jazz aanslag op die klavier toe sy heeltemal alleen op die verhoog was en haar aangename, onopgesmukte persoonlikheid. Mens moet seker in gedagte hou dat haar pa - Ravi Shankar - die bekende Indiese siterspeler (en Amerikaanse musiekma) se talent defnitief oorgedra moes word en nou op eg Amerikaanse manier deur haar uitgevoer word.
Christof het ’n bietjie laat onthou hy kon Norah se konsert en ons seilery saam met die kinders in Boston se hawe as krediet gebruik het vir die feit dat ons op 5 Julie 27 jaar getroud was. Dit was heerlike uitstappies.
Christof het ’n bietjie laat onthou hy kon Norah se konsert en ons seilery saam met die kinders in Boston se hawe as krediet gebruik het vir die feit dat ons op 5 Julie 27 jaar getroud was. Dit was heerlike uitstappies.
Een van die "Tall Ships" in die hawe. Hulle lê duisende kilometers af om op bepaalde plekke in die wêreld te pronk op gedenkwaadige tye. |
5 Julie 27jaar getroud, geseënd, gesond - dankbaar! |
No comments:
Post a Comment