Sunday, April 29, 2012

10. Everyone has got to have a “maatjie”



Renée en Denea

...dit was die wyse woorde van Ms Dee Pullen, destydse hoof van die Brooklyn Pre-Primary School toe Adam aanvanklik in die kleuterskool gesukkel het om ’n maatjie te maak. Willemien het nooit daardie probleem gehad nie - dit het altyd baie maklik gegaan maar dit het Adam langer geneem om ’n paar goeie pelle te maak, ook op laer- en hoërskool. 

Hier is ’n ernstige tekort aan ”maatjies”. Ek en Christof en Renée is hoofsaaklik mekaar se maatjies. Dis lekker en ons doen baie meer saam as wat dit die afgelope jare moontlik was. Verder hou ons daarvan om so ongekompliseerd en anoniem te leef vir ’n tydjie. Die telefoon lui amper nooit nie, niemand klop aan die deur nie en mens kan net aangaan met wat jy wil daardie dag wil doen.

Nou en dan het ek tog ’n behoefte om met ’n vriendin te gaan koffie drink en met iemand anders Afrikaans te praat as my huisgenote (Amerikaans sal ook OK wees ek sal selfs weer Duits probeer as dit moet.) Amerikaners is oor die algemeen baie vriendelik (soos die in my kunsklasse) maar doen nie moeite om vriende te maak of om jou huis toe te nooi nie. 

Toe ons voorheen oorsee gebly het en die kinders klein was het dit gereeld gebeur dat die kinders veroorsaak dat die ouers ook “maatjies maak” want hulle wil oor en weer speel.  Renée is nou groot en stap alleen skool toe. Daar is ook geen sprake van buitemuurse aktiwiteite of kontak by die skool vir die ouers nie. Sy is baie gelukkig in die special needs klas van die Rindge and Latin School - die reuse hoërskool hier in Cambridge. Renée sê "in Amerika word haar drome waar” want sy wou nog altyd Hollywood toe gegaan en in ’n Amerikaanse skool met haar eie locker gewees het - en dit het gebeur. Nog ’n droom wat waar geword het is dat sy ’n maatjie (met twee tattoes! - nog ’n bonus) by die skool gemaak het. (Nie dat Katrin of Jessica by die huis vervang kan word nie, maar darem). Met Denea kan sy nou en dan gaan fliek, oor TV, celebrities en dies meer gesels - ek is nie baie goed daarmee nie. 

Christof mis ook sy vriende by die huis maar het minder tyd vir kuier. Gelukkig kom twee van sy maatjies binnekort. De Wet Marais en Thomas van Tonder kom gedurende die laaste twee weke van Mei hier ’n draai maak. My enigste kans op ’n maatjie wat kom kuier is Hermien Wright, wat beplan om in Junie te kom. Ek sien baie uit daarna - ’n mens wil graag ’n bietjie van die ondervindinge met iemand deel wat dit kan waardeer. Christof gaan in daardie tyd op n lang trip na Washington DC en direk daarna na Geneve.
Ons bure in Howlandstraat. Die pragtige Dogwood Tree
is 25 jaar gelede geplant, nou in volle blom.
Howland Street waarin ons bly, is ’n baie kort straat met inwoners wat al jare lank hier bly. Die meeste is heelwat ouer as ons en is al sedert die 70er jare hier woonagtig. Hulle gee die afgelope 20 jaar ’n koerantjie, “The Howl” uit, met al die nuus van die mense in die straat en nabye omgewing. Een van hierdie bure het ons genooi na ’n Passover Seder op Goeie Vrydag en het die Joodse paasfees op “moderne tradisionele” manier saam met hulle en ’n klompie vriende gevier. 

Ons het een keer met kollegas van Christof gaan ontbyt eet en ek het eenkeer met ’n oud-student van Christof gaan lunch en dit is dit. Verder het ons een jong Afrikaanse vriendin, Mia Verdoorn, ’n opkomende sangeres, oor wie ek later meer sal skryf. 

Plaaslike sosiale konneksies bly dus baie beperk. Om met ons vriende te maak is nie eintlk ’n belegging nie want ons bly te kort hier maar ek mis so nou en dan ’n maatjie. Dit bring my by die volgende onderwerp...

No comments:

Post a Comment