So nou en dan kry ons gaste. Adam was hier op ’n blitsbesoekie, hoofsaaklik om sy homesick sussie op te beur, sy ma se hart goed te doen en ons ’n bietjie op datum te bring met sy lewe. Verder het hy fotografiese toerusting en ’n paar fotografiese gimmicks wat nie in SA verkrygbaar is nie, aangeskaf. Hy het dit per internet bestel en dit is ’n paar dae later by ons voordeur afgelewer. Hy het baie rande so gespaar. Die kuiertjie was net te vinnig verby.
Ons Deense vriende het kom kuier - wonderlik om sulke mense te hê met wie jy oor jare en oor kultuurgrense heen net kliek en weer aangaan waar jy laas opgehou het. Ons het hulle 25 jaar gelede in New Haven leerken toe meeste van ons en hulle kinders nog nie gebore was nie. Daarna het ons in Heidelberg, Denemarke, Suid-Afrika, Oxford en verlede jaar weer in Denemarke ten tye van hulle silwerbruilof met hulle gekuier. Dit help as die ouers vir dieselfde goed lag want dan verstaan die kinders mekaar ook op ’n wonderbaarlike manier. Adam en Rasmus (wat hy 11 jaar terug in Heidelberg laas gesien het) het ook net aangegaan. Rasmus swot regte in Denemarke, is ’n Michael Mcconaughey lookalike en baie begeesterd met sy loopbaan wat voorlê. Hy het dit vreeslik geniet om die regsfakulteit hier te bekyk en is op pad om in die volgende semester by Mcgill Univ in Kanada te gaan studeer terwyl sy ouers en jongste sussie van Denemarke af weer ’n ruk in New Haven gaan bly - so jammer ons is dan al weer terug in SA.
Ons woon wonderlike lesings by. Daar is daagliks interessante gratis lesings en besprekings om elk hoek en draai hier in Cambridge: by die biblioteke, koffieplekke, boekwinkels ens. Heeltemal te veel om by uit te kom. William Kentridge gee tans ’n gratis lesingreeks: "6 Drawing Lessons" hier naby in ’n groot teater. Dis ontsaglik gewild en die plek word elke week volgepak. Hy is ’n uitstekende spreker en so ’n gerespekteerde kunstenaar/filosoof dat ’n mens trots is dat ’n Suid-Afrikaner wêreldwyd so ondersteun word. http://mahindrahumanities.fas.harvard.edu/content/william-kentridge-drawing-lesson-one-praise-shadows
Christof woon weeklikse besprekings/lesings/etes by met mense van wie hy nog net hulle boeke gelees het. Dit het alles met sy navorsing of VN werk te doen en is baie inspirerend vir hom. Hy moet ook gereeld deelneem aan paneelbesprekings en seminare. Dit gaan net ongelukkig weer ’n nuwe klomp werk veroorsaak!
Sou nou en dan sien ons ’n goeie show. Saam met Adam het ons na die Blu Man Group gaan kyk. ’n Nuwe teater ervaring. Renée was veral mal daaroor, mens kan dit seker "hedendaagse sirkus" noem. Ek en Christof het verlede Sondag na die musiekteater: Ma Rainey's Black Bottom gaan kyk. Dit handel oor die "moeder van blues" en speel af in 1927 in Chicago. Die skrywer het oa die Pullitzer prys daarvoor gewen - dit was uitstekend.
Hier kom nog so baie shows en dinge wat ons wil kyk dat ek nie weet waar ons die tyd en geld vir alles wat ons wil sien, gaan kry nie. Mary Poppins wat tans in New York wys is hoog op ons lysie.
Ek neem ’n paar klasse: Het met waterverf begin, nog early days maar ek geniet dit. Ekt besluit dit pas dalk beter by my geaardheid, ek gaan nie die geduld hê vir olieverf wat moet droogw ord nie. Ek doen ook life drawing klasse hier baie naby aan ons by ’n kunssentrum. Ek het nog altyd daarvan gehou en is bky dat ek nou tyd daarvoor het. ’n Mens koop ’n aantal kaartjies en kan dit gebruik soos wat jy tyd het om te gaan. Ek het ook ingeskryf vir ’n gevorderde pottery kursus in Mei.
Cambridge Rindge and Latin School |
Renée gaan uiteindelik skool toe. Na ’n lang gesukkel is sy ingeskryf by die Cambridge Public Schools sisteem - dis erger as om by die weermag aan te sluit. Na tien vorms, verslae, adresbewyse en ’n paar inspuitings (immuniserings) gaan sy nou elke dag na ’n regte Amerikaanse skool met lockers in die gange net soos sy al jare op TV sien. Dit is die enigste hoërskool in Cambridge. Sy is saam met vier ander kinders in ’n spesiale klas, baie soos Nuwe Hoop, behalwe dat die klas deel is van die gewone hoërskool. Hulle doen allerande life skills programme, kuns, musiekklasse, werk buite die skool en kookklasse - hulle het laas week ’n melktert gebak - ek het die resep stuur.
Sy begin ’n bietjie onafhanklik raak en kan alleen winkel en skool toe stap. Was baie embarrased oor Christof die eerste dag in sy kanariegeel fietsrybaadjie en fietsryhelmet saam met haar op sy fiets gery het. Soveel so dat sy die tweede dag hier weggeglip het sonder om ons te groet. Soos hy sê - mens het baie om voor dankbaar te wees as jou kinders skelm skool toe gaan, dit kon baie erger goed gewees het wat sy sonder ons wete aanvang.
Long Pond Road, Waccabuc, NY |
Lize, Rachel, Renée, Fearika |
Ons ry ’n paar draaie. Het die afgelope naweek ’n motor gehuur en by Johann en Lize Lubbe en hulle dogter Rachel in Waccabuc, noord van New York gaan kuier. Op pad na die Lubbes het ons middagete in New Haven geëet en so bietjie terugverlang na ons verblyf daar gedurende 1986/87. Dit was ’n heerlike rustige naweek. Vir my en Renée wat in 2003 laas by die Lubbes gekuier het, was dit ’n reuse verassing om hulle woonplek van die afgelope 7 jaar te sien. Christof het al voorheen daar by hulle gekuier. Hulle bly in ’n woudagtige gebied op ’n baie groot erf. Dit herinner ’n mens aan Mooikloof tipe maar sonder die sekuriteit. Johann is ’n vennoot in Manhattan by ’n groot arbeidsreg firma en Lize werk as fisioterapeut naby aan hulle huis. Rachel is 13 en maak hierdie jaar klaar met die middle school.
Ons het drie aande na mekaar gebraai op hulle heerlike dek en baie dinge onthou van die onvergeetlike tyd toe ons vier in Desember 1986 saam getoer het - met ’n ou Buick vanaf Washington tot in Key West. Met ons karige begroting op daardie trip, het ons feitlik elke aand al vier saam in een kamer in een of ander suspisieuse motel geslaap!
Op pad terug het ons by IKEA gestop. In Europa was dit nog altyd een van ons gunsteling winkels - die arm-man se Skandinawiese experience Ons het so hier en daar iets baie klein aangeskaf wat ons kan saam neem huistoe en weer eens al die innoverende ligte, huisraad en nuwe idees waardeer. Ons al drie het ook nog heerlik vir net $13 dollar in hulle oulike restaurant geëet.
Die laaste draai met die gehuurde motor het ons na Costco (groter as Makro) geneem om voorraad aan te koop wat baie lank moet hou. Eintlik hou ek al hoe meer daarvan om so eenvoudig sonder ’n kar te leef. Ons sal die daaglikse brood en melk weer met nuwe moed aandra en die motors tuis minder mis, veral nou dat die lente in die lug is.
No comments:
Post a Comment