Saturday, June 9, 2012

15. New York, New York


New York vanaf die Brooklyn Bridge
Hierdie is meestal ’n fotoblog. Nie tyd vir te lank skryf voor die volgende avontuur nie. Ek sit ook ’n nuwe fotoalbum op Facebook. Ek gebruik n paar van my en ’n paar van Hermien se foto's. Dankie MIen!


Jan van Heerden, Hermien se swaer gee tans klas by Fordham Universiteit in New York. Ons het op die Fordham kampus in die Bronx tuisgegaan saam met Tuks studente wat ’n somerkursus in Ekonomie bywoon. In Augustus kom ’n hele aantal Amerikaanse studente van Fordham na Pretoria om die kursus voort te sit.


Ons het heerlik in die moderne koshuis met ’n groot kombuis op ons vloer gebly. Die kampus is pragtig en die tuine is soos oral groen, groen, groen.
Jan, met ons reuse pizza by Lombardi's,
die eerste restaurant in Amerika waar pizzas bedien is.


Times Square!


Die afstand uit die stad is iets wat ’n mens in gedagte moet hou. Daar gaan heelwat tyd in heen en weer reis op die B of D treine. Ek het al vergeet hoe ingewikkeld en omvattend Manhattan se ondergrondse stelsel is! Maar dit was opwindend om van trein na bus na trein te hardloop, tussenin baie myle per voet af te lê, langs die straat te eet, my jarelange vriend Albertus Swanepoel se hoedemakery te besoek, in n fancy Chinese restaurant saam met hom en Eddie te kuier, oor die Brooklynbrug te loop en met n boot om die hele eiland te ry. 





Ons het ook die nuwe monument by Ground Zero besoek wat oopgemaak het met die tiende herdenking verlede jaar op 11.9.11 - dit is aangrypend. 
Nuwe gebou in aanbou by Ground Zero

Twee vierkantige gate met pragtige watervalle
presies op die plekke waar die twee geboue gestaan het.

Ekwil tog van twee herinneringe vertel. My aanbeveling vir enigiemand wat die groot stad besoek is altyd om so gou moontlik die Circle Line toer reg rondom Manhattan te doen. Dit gee mens ’n goeie begrip van die uitleg van die stad en mens sien die Statue of Liberty, die bekende skyline en die vele brûe almal baie mooi. Elke keer wat ek hierdie toer gedoen het was daar iemand besonders saam met ons op die boot. 

Ek het baie aan die eerste keer terug gedink toe ons Dinsdag 5 Junie in die rondte vaar. Met die instapslag het ons vir Wiets en Andante (Arné se suster en haar man) wat op ’n Honeymoon-around-the-world is raakgeloop! Dit was ook toevallig Willemien se 25e verjaarsdag daardie dag. Ek het baie gedink aan die keer, 25 jaar gelede, minder as twee weke voor haar geboorte, wat ek hierdie einste trip saam met my ma en skoonma gedoen het - 8 en ’n half maande swanger. Die ma's was skoon ontsteld en baie benoud dat Willemien dalk op n boot gebore sou wordl! Nou ja as jy jonk is pla dit jou glad nie. Ek sal self nie nou saam met ’n ver swanger vroutjie op daardie boot klim nie! 


Die tweede keer in 2003 het ons as gesin saam die trip gedoen en ons goeie Pretoriase vriendin, Erika Theron, wat met navorsing vir ’n boek besig was het die reis om die eilnad met ons meegemaak.


’n Ander hoogtepunte in New York was die nuwe skreeusnaakse klug - "One man two Guvnors" op Broadway. James Corden, van The History Boys, Three Musketeers speel daarin en hy en die ander 9 akteurs was almal onverbeterlik. Ek kan nie eers begin om te vertel nie maar indien daar ’n kans is dat jy dit een of ander tyd kan sien, sit dit op jou lys van gunstelinge. Dit het 7 Tony nominasies gekry. 
EATALY in NY!

Nog ’n onverwagse juweel van ’n plek: Ons wou ’n hamburger by die bekende Shake Shack in Madison Square Gardens gaan eet maar toe sak daar ’n reënbuitjie uit. Toe ek opkyk, kyk ek in die bord van "Eataly" vas en onthou Albertus het dit ook aanbeveel. Wat ’n ontdekking! Reuse Italiaanse kosplek met verskillende afdelings waar mens platters met kase en wyne kan proe, varsgemaakte pasta en enige denkbare pastrami, salami, warm kosse, resepteboeke, fancy breekware ens kan koop. Almal eet en kuier staande om hoë tafeltjies en gawe Amerikaners skuif op sodat ons natgereëndes ook ’n plekkie rondom hulle tafel kan kry.


Ons was ook by die Guggenheim museum wat ek jare laas besoek het, en het deur ’n groot gedeelte van Central Park gestap.



Central Park in die somer

Guggenheim Museum

Ete met Eddie en Albertus
Hermien het baie foto's geneem, veral van die mooi ou geboue en wolkekrabbers, so haar oë was meestal na bo gerig en myne op die straatborde. Ons het ons pad maklik gekry en baie pret gehad maar soos die Sunscreen Song sê: Do not live in California for too long, it will make you soft. Do not live in New York too long, it will make you hard. Die New Yorkers is oor die algemeen baie haastig, baie kortaf en nogal ongeskik - ons kan ’n hele paar voorbeelde noem! Tog bly dit ’n unieke, oorweldigende, groot, groot plek wat moeilik is om te beskryf.








No comments:

Post a Comment