Tuesday, June 5, 2012

14. New York toe, beskuit onder die arm.



Moet vrede maak daarmee dat ek nooit die Sex in the City image sal hê nie, te oud en te deugsaam daarvoor. Gelukkig sê Christof hy dink deugsaam is nou weer in die mode nadat dit vir ’n lang tyd nie was nie.

Stel jou voor jy kry die kans (darem nie die eerste keer nie) om New York te besoek en al waaraan jy dink is - nie hoe jy gaan aantrek, waar jy die mees state of the art drinks gaan drink, watter museums jy gaan besoek en watter nuutste show jy gaan probeer sien nie.  (Daardie dinge is wel op jou lysie en in jou verbeelding sien jy jouself heel fashionable in 5th Avenue afstap, nes soos Sarah Jessica Parker.) Maar wat voor op in jou gedagtes is, is die beskuit wat jy opsluit moet bak vir die Samaritaan wat jou onderdak gee op hierdie besondere eiland.

Ek het ’n rowwe week agter die rug, ek was amper so besig soos by die huis. Behalwe vir die klasse en die klasse se huiswerk wat ek baie geniet, het Thomas en De Wet by ons gekuier en ons het gebraai en baie pret gehad. Christof was saam met hulle na Maine vir ’n paar aande. Hulle het heerlik om oop vure en op kanoes gekuier en opgevang. Terug in Boston het De Wet en Thomas nog tyd gehad om Boston te verken. 


Later in die week was ek besig met voorbereidings vir Renée se klas wat Vrydagmiddag by ons kom eet het. Sy het koeksisters vir nagereg bestel en toe onthou ek natuurlik dis die ander ding wat ek ook net oorsee doen - koeksisters bak. Dis nie asof mens koeksisters by die naaste bakkery kan bestel nie. Ek het weer terug gedink aan 25 jaar gelede toe ek die Kook en Geniet gereeld nader getrek het en amper soos die meisie in die fliek oor Julia Childs gevoel het. Ek moet sê ek het toe reeds vorige ondervinding van koeksisters bak gehad - destyds by die KJA van ons kerk. Daar het ons vir pret en fondsinsamelings ’n paar koeksisteraande gehad. Die kerktannies het ons met die omies se tuisgemaakte draadmandjies vir “koeksisters in die olie bak” en “draaddekseltjies” waarmee jy hulle vinnig in die stroop dompel touwys gemaak. (die naaste wat die NG kerk daardie tyd aan onderdompeling gekom het!) Hier improviseer ons sonder die regte toerusting en ek en Renée het dit min of meer reg gekry. Ons het net nie gliserien gehad om die koesisters te laat blink nie. Ek is ook dankbaar ons poging was nie vir ’n kompetisie op ’n landbouskou ingeskryf nie. Ons het tog ’n hele paar komplimente vir ons Suid-Afrikaanse nagereg gekry.

Sue Smit van New Haven


Direk daarna het my jarelange vriendin Sue uit New Haven opgedaag en ons het Saterdagoggend die Chocolate walking tour of Boston gedoen in gietende reen (meer daaroor later).

So tussen deur alles het ’n paar kliënte tuis van hulle laat hoor en ek moes nog aan ’n paar opdragte werk. Nataniel het ’n vinnige bordontwerp vir sy winkel nodig gehad, nog iemand het  besigheidskaartjies bestel en ’n DVD cover moes klaar gemaak word.

Janie het laat weet sy dink dat haar man Jan, dit sal waardeer indien ek vir hom ’n bietjie beskuit kan saam neem New York toe. Ek was aanvanklik vas oortuig dat Janie - daar is nou vir jou ’n ware deugsame vrou - defnitief vir hom beskuit sou bak maar hulle was onder die indruk dat hy nie so iets op die vlug mag saamneem nie. Agv van hierdie nuus wat toe Vrydagoggend by my uitkom en met Renée se klas amper op pad na ons huis, besluit ek om gou nog ’n pannetjjie beskuit in die oond te steek. Probleem is daar is net een groot oondpan, ek sou die beskuit voor die herderspastei moes maak. Dit sou maklik wees - ek “bak mos kompulsief” en het al die bestanddele gehad, my bakpoeier was net te min. Ek gryp toe ’n ou houertjie met bakpoeier wat die vorige Franse familie daar gelos het... en daar rys die beskuit baie swak - die bakpoeier moes verslaan het!

Grand Central Station, New York
Nou ja, hier sit ek op die trein en brei op pad na New York, super excited om Hermien een uur by die bekende horlosie op Grand Central Station te ontmoet. Dit voel ’n bietjie soos ’n Amerikaanse movie maar lyk waarskynlik nie so nie. Ek hoop op Hermien om meer soos ’n Sex in the City karakter te lyk (ek weet sy sal my nie teleurstel nie). Ek is gelaai met laag gerysde, uitgedroogde beskuit vir Jan en Rice Crispy koekies vir my goeie hoedemaker vriend, Albertus. 

Ek het darem my Guess plakkies aan wat ek in Rodeo Drive in Hollywood gekoop het...



Hermien, Jan, ons gasheer en ek



2 comments: